SORG VIR JOU IMMUUNSISTEEM

AS jou oorgrootjie - lank voor jou geboorte reeds saliger - vandag uit die graf kon opstaan en ‘n paar weke onder jou dak kon deurbring, sou die skok op sy gestel aansienlik wees. Ons leefwyse en ons omgewing het die afgelope honderd jaar ingrypend verander. Op sy plaas was Grootoupa gewoond aan groente uit die tuin, vrugte uit die boord en eiers uit die hoenderhok. Meel is vars gemaal en die tuisgebakte brood en plaasbotter het nooit ‘n vrieskas gesien nie. Kos wat lank moes hou is gedroog of ingelê of in ‘n kelder bewaar - geen preserveermiddel of lang rakleweproduk in sig nie.

Grootoupa is in sy lewe nooit aan antibiotika of inentings blootgestel nie. Destyds het ‘n sterk gestel en boererate of kruiemedisyne ‘n siek mens deurgetrek. Die daaglikse plaasarbeid het sy hart in toptoestand en sy gewig onder beheer gehou. Maar al was sy longe hóé gesond, sou vandag se uitlaatgasse en rookmis hulle behoorlik laat les opsê. En die water uit die stadskraan sou hom kwalik aanstaan. Jy sou hom summier die watersuiweringsapparaat moes gaan wys.

Min van ons wens werklik dat ons in Grootoupa se ‘goeie ou dae’ kon leef, veral wat die mediese aspek van ons lewens betref. Vandag is daar immers aarvoeding en hartomleidings en orgaanoorplantings vir ons behoud. Ongelukkig is daar ook siektes waarvan daar ‘n eeu gelede geen sprake was nie, soos fibromialgie, chroniese moegheidsindroom en MIV. Dis een van die teenstrydighede van die een en twintigste eeu: enersyds het ons meer medisynes, prosedures en apparate om ons in die stryd teen siekte by te staan. Andersyds is ons immuunsisteme onder veel groter druk weens die kunsmatige omstandighede waaronder ons leef. Dit wat ons liggame die nodigste het - water, voedsel en lug - is nie meer die heilsame bronne wat dit in ons oorgrootjies se tyd was nie. Boonop voel ons dikwels uit pas met ons daaglikse gejaagde gang. G’n wonder ons immuunsisteme faal soms tydens ‘n vyandelike aanslag, of raak die kluts kwyt en vernietig gesonde selle en weefsels soos in die geval van ‘n outo-immuunsiekte nie.

In hul boek *The immune system cure ondersoek Lorna Vanderhaeghe en prof. Patrick Bouic verskeie faktore wat bepaal of jou immuunsisteem optimaal funksioneer. Hulle kyk onder andere na jou genetiese samestelling, die gebruik van antibiotika, besoedeling en omgewingsgifstowwe, leefstyl, voedingstowwe en na die invloed van stres en jou emosionele toestand. Die kernboodskap is dat voorkoming steeds beter is as genesing. Wat kan jý doen om jou immuunsisteem te ondersteun en dit vir infeksies en kankergewasse moeilik te maak om vatplek te kry?

Genetiese samestelling en antibiotika

Aan jou genetiese samestelling kan jy bitter min verander, maar wat antibiotika betref het jy wel ‘n sê. Wêreldwyd is daar kommer oor die feit dat bakterieë toenemend weerstand teen antibiotika bied. Jy kan jouself ‘n guns doen deur antibiotika slegs as ‘n allerlaaste uitweg te gebruik en deur elke kursus getrou klaar te maak.

Besoedeling en omgewingsgifstowwe

Min mense besef in watter toksiese omgewing ons leef. Volgens die Organiese Vereniging van die VSA word 80% van alle kankers deur gifstowwe in ons omgewing veroorsaak.Ons kom daagliks in aanraking met stowwe soos motoruitlaatgas, bensien, chloor en insekdoders en ons arme immuunsisteme het die taak om dit onskadelik te stel. Dis geen wonder dat sommige mense deesdae aan omgewingsiekte ("environmental illness") ly nie.

Leefstyl

Ten opsigte van leefstyl geld die beproefde raad: oefen gereeld. Navorsing het bewys dat lae intensiteit-oefening soos stap immuniteit bevorder. Hoë-intensiteitoefening oor lang tydperke belas die immuunsisteem. So kry marathondeelnemers dikwels verkoue of griep na ‘n wedloop. Dis belangrik dat hulle hul dieet by die eise van die tipe oefening aanpas en voldoende anti-oksidante inneem as teenvoeter vir die vrye radikale wat deur oefening vrygestel kan word..

Voeding

Met die uitsondering van Grootoupa se voorliefde vir rooivleis, sou die voedingsideaal wees om te eet soos hy geëet het. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan. Hedendaagse voedselprodukte is armer aan nutriënte as produkte van ‘n eeu gelede, onder andere omdat vrugte en groente geoes word terwyl hulle nog groen is en gewasse verbou word op grond wat reeds uitgeput is. Verder bevat kommersieelverboude varsprodukte minder kalium en seleen as dié wat organies verbou word, en toon hulle soms spore van hormone en insekdoders.

Wanneer ‘n mens kos koop met die oog op jou immuunsisteem is die wagwoord dus eerstens organies, en tweedens vars. Ons eet heelwat minder vars kosse as wat ons dink. Min mense kom sover om self hul vrugtesap uit te druk, hul sop en pastasouse vars te berei of brood van pasgemaalde meel te bak.

Wat is dan so besonders aan vars groente en vrugte? Afgesien van die minerale, vitamines en vesel wat hulle bevat, is hulle ryk aan plantvoedingstowwe soos betakaroteen. Plantvoedingstowwe beskerm plante teen sonskade, peste en gifstowwe. Hulle is ook van onskatbare waarde vir die mens se immuunsisteem. Om die maksimum immuunbeskerming te geniet moet jy daagliks sewe tot tien porsies (‘n halfkoppie elk) vars groente, vrugte, neute en sade inneem. Ongelukkig word plantvoedingstowwe benadeel of vernietig wanneer kos geprosesseer, gekook of selfs net gevries word.

‘n Derde wenk is dat natuurkosse heel geniet moet word. ‘n Heel lemoen is veel gesonder as lemoenkonsentraat. Sonneblomsade is voordeliger as sonneblomolie. Wetenskaplikes is nog nie seker hoe die komponente van elke voedselsoort inmekaarsteek nie, maar die onderlinge elemente beïnvloed mekaar beslis. Om die maksimum voordeel daaruit te trek moet dit liefs heel geëet word.

Om jou immuunsisteem ‘n verdere hupstoot te gee, moet jy tussen goeie en slegte vette kan onderskei. Essensiële vette soos dié in koudgeparste olyfolie en olierige vis is heilsaam en help selfs om cholestrol te verlaag. Slegte vette soos dié in vleis of in margarien wat transvetsure bevat, benadeel die immuunsisteem. Diepvetgebraaide of swartgebrande kos bevat vrye radikale wat die gesondheid kan knou. Suiker moet sover as moontlik vermy word omdat dit die immuunsisteem onderdruk. Natuurlike suiker wat byvoorbeeld met die eet van ‘n appel ingeneem word, rig nie soveel skade aan nie, maar suikerplaasvervangers is uiters nadelig. Dieselfde geld kafeïen, of dit nou in koffie of in sjokolade voorkom. Aan die ander kant help ‘n koppievol joghurt per dag jou immuunsisteem om sy kant te bring.

As jy so gejaagd lewe dat jy sukkel om drie maaltye per dag in te pas - wat nog te sê van minstens sewe groente- of vrugteporsies - moet jy voedselaanvullings dringend oorweeg. Raadpleeg ‘n dieetkundige of The immune system cure, waar jy ook inligting kan kry oor die plantvoedingstofkompleks Sterinol (beter bekend as Moducare) wat ontwikkel is om onderaktiwiteit sowel as ooraktiwiteit in die immuunsisteem te teiken en te normaliseer.

Stres en jou emosionele toestand

Die meeste van ons aanvaar dat stres ons liggaamsfunksies aantas. Dit gebeur dat jy voor ‘n werksonderhoud ‘n paar keer dringend die badkamer moet besoek of dat ‘n koorsblaar juis voor daardie langverwagte eerste afspraak sy bose verskyning maak. Tog kry ons moeilik vat aan die idee dat vreugde en vervulling jou immuniteit teen die groot K dramaties kan verhoog, en ons staan skepties teenoor mense wat beweer dat lagterapie hulle van ernstige siektes genees het.

Navorsing het egter getoon dat denke, houdings en emosies die immuunsisteem reëlreg beïnvloed. Eksperimente bewys dat die blote gedagte aan pyn die liggaam se natuurlike pynstiller-chemikalieë stimuleer. Bevindinge van hierdie aard het gelei tot die ontstaan van ‘n nuwe wetenskaplike veld, naamlik Psigoneuro-immunologie (PNI). Volgens dr. Ian Weinberg, Johannesburgse neurochirurg, fokus PNI op die fisieke, kwantifiseerbare verband tussen ‘n individu se denke en emosionele toestand, sy neuro-endokriene sisteem en sy immuunsisteem. "Kankerpasiënte wil dikwels weet hoekom hulle ‘n kankergewas ontwikkel het, en die konvensionele medisyne kan die vraag nie beantwoord nie," sê dr. Weinberg. "PNI toon aan dat een of ander psigo-sosiale situasie in die pasiënt se lewe gelei het tot ‘n negatiewe ingesteldheid. Hierdie ingesteldheid het die immuunsisteem ‘afgeskakel’ en die pasiënt se beskerming teen infeksies en kankergewasse was daarmee heen."

Dr. Weinberg het die Triangles Model of PNI Application ontwikkel en gebruik dit al jare lank om sy pasiënte te wys presies hoe ‘n positiewe of ‘n negatiewe ingesteldheid die immuunsisteem beïnvloed. "‘n Negatiewe ingesteldheid berus op ‘n gevoel dat jy jou rigting kwytgeraak het, dat die lewe sonder sin is. As jy boonop magteloosheid ervaar en glo dat jy niks aan die situasie kan doen nie, voorspel dit moeilikheid in terme van jou immuunsisteem."

Dr. Weinberg se model bestaan uit ‘n handleiding, twee kassette en ‘n interaktiewe CD-Rom. "Dit illustreer hoe ons leer en hoe ons ons werklikheidsbeskouing ontwikkel. ‘n Mens kan die analogie van ‘n staptoer gebruik. Dink aan die werklikheid as die stapgebied, en jou persepsie van die werklikheid as jou roetekaart. As jou roetekaart nie die stapgebied getrou weergee nie, gaan jy gefrustreerd en bang voel en uiteindelik verdwaal. Dieselfde gebeur wanneer jou emosionele roetekaart nie met die ‘terrein’ van die werklikheid ooreenstem nie." Die model is geensins psigo-analities van aard nie; dit fokus op die manier waarop ‘n mens inligting uit die omgewing verwerk. Dis ook geen wonderkuur nie en word binne ‘n wyer behandelingskonteks aangewend om mense met onder andere Vigs en kanker te help.

Die algemene beskouing van die verband tussen stres en siekte het die laaste paar jaar verander. Vroeër is stressors soos die dood van ‘n geliefde, verhuising en egskeiding met behulp van stres-skale gemeet om te voorspel hoe dit die gemiddelde mens se gesondheid sou affekteer. Dis ‘n oorvereenvoudigde benadering. Sommige mense floreer immers op stresvolle situasies wat ander laat vou. Tog bly stres die grootste risikofaktor in die ontwikkeling van hartsiektes en kanker. As jy erns maak met die toestand van jou immuunstelsel, moet jy jou eie lewe in oënskou neem en indien nodig streshanteringsmeganismes aanleer. Asemhalingstegnieke, joga en bioterugvoer-opleiding is maar enkele moontlikhede.

"Bloot die vrees wat met siekte gepaard gaan kan immuniteit verlaag," sê dr. Margo de Kooker, ‘n algemene praktisyn van Johannesburg wat spesialiseer in "mind body medicine," die terapeutiese toepassing van die bevindinge van PNI. "Daarom probeer ons pasiënte help om te verstaan wat binne hul liggame aangaan.Wanneer ‘n ernstige siekte manifesteer, is die onderliggende faktore biologies, sielkundig sowel as geestelik van aard. Die pasiënt moet gehelp word om sy siekte holisties te benader sodat hy sy volle geneespotensiaal kan inspan."

Afgesien van ortodokse medikasie skryf dr. De Kooker komplementêre terapieë soos bio-energiebehandelings, aromaterapie, homeopatie, musiekterapie, drukpuntterapie en kognitiewe terapie voor. "Dis belangrik dat die pasiënt self die proses lei," sê sy. "Ons ‘sien nie mense reg’ nie. Ons doelstelling is ook nie noodwendig om ‘n pasiënt gesond te kry nie, maar om haar te help om binnekant heel te word, om onafgehandelde sake af te sluit. ‘n Pasiënt moet kan sê: ‘Ek is nie my kanker nie. Ek is veel meer as my siekte.’ Dikwels vind ons dat dit vir pasiënte gaandeweg minder belangrik word of hulle uiteindelik gaan herstel. Die belangrikste is hulle menseverhoudinge en die vrede wat hulle vind."

AGT GEDRAGSPATRONE WAT DIE IMMUUNSISTEEM ONDERSTEUN (RAAMPIE)

Jou immuunsisteem sal daarby baatvind as jy die volgende wenke van dr. Margot de Kooker kan volg.

1. Positiewe wese ("positive being") behels dat jy eerlik na jou omstandighede kyk en daarby probeer aanpas. Wees bewus van jou liggaamsbehoeftes en doen wat nodig is om daarin te voorsien.

2. Evalueer die stres wat jy ervaar. Stres kan as motivering dien solank jy in beheer voel en jou liggaam kan byhou. Wanneer stres jou egter buite beheer laat voel, moet jy planmaak om dit te bestuur.

3. Leef jou verskillende rolle ten volle uit. Wees ‘n vriendin, ‘n ma, ‘n bejaarde, ‘n besigheidspersoon, ‘n sportvrou ... Indien een van hierdie identiteite swaarkry, is daar ‘n ander een wat goed genoeg ontwikkel is om jou deur die krisis te dra.

4. Bewys onselfsugtige liefde teenoor ‘n medemens of enige vorm van lewe. Leer om mense te vertrou en sosiale bande te vorm.

5. Bou aan jou eie gehardheid ("hardiness"). Sien die lewe as ‘n uitdaging om te groei, probeer doelbewus betekenis daaraan gee en besef dat jy wel die vermoë het om sommige dinge te verander.

6. Identifiseer jou lewensdoel of dit wat vir jou ‘n passie is en vind ‘n manier om dit uit te leef, selfs al is dit net vir een uur per week.

7. Wees bewus van jou positiewe sowel as jou negatiewe emosies en vind maniere om daaraan uitdrukking te gee. Opgekropte gevoelens kan chroniese liggaamstres veroorsaak.

8. Staan by jou beginsels en leer om jouself op ‘n mooi manier te laat geld. Moenie jou behoeftes eenvoudig tweede stel nie.

*The immune system cure - 30 days to optimize your immune system deur Lorna R. Vanderhaeghe & prof. Patrick J. D. Bouic, Pyramid Publishers, Hermanus, c1999. Prof. Bouic is ‘n immunoloog verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Dr. Ian Weinberg: kontak Stephanie by 011-485 3237 (9h00 - 14h00), faksnr. 011-485 2446.

Dr. Margot de Kooker, tel. 011-640 5706, webwerf: www.wellness.org.za, e-posadres: info@wellness.org.za. Dr. De Kooker is betrokke by die Wellness Support Programme, ‘n geregistreerde welsynsorganisasie wat lesings en werkwinkels vir die publiek aanbied en telefoniese en e-posondersteuning bied. ‘n Ondersteuningsgroep vergader weekliks by die Centre for Mind Body Health in Sandringham, Johannesburg (tel. 011- 728 5678).